golf day header.jpg
 

Senwes, NWK en Agri Securitas bied gholfdag aan

Die Agri Securitas-gholfdag wat op 23 November 2021 by die Pecanwood-gholfbaan aangebied is, is gehou met die samewerking van die hoofborge Senwes en NWK. Hierdie maatskappye ondersteun oor jare die doelstellings van die Trustfonds, naamlik om fondse aan landbougemeenskappe beskikbaar te stel vir plaasbeveiliging. Obaro, Agri SA, Nedbank en Pioneer het verdere borgskappe vir die dag bewillig, wat bygedra het tot die sukses van dié dag.

Boere en plaaswerkers is uitgelewer aan die brutaliteit van plaasaanvalle; dit is onaanvaarbaar en bly steeds ʼn enorme probleem gegewe die opvlamming in plaasaanvalle die afgelope tyd. Agri Securitas veroordeel ten sterkste die voortgesette geweld wat die boerderygemeenskap, asook mede-Suid-Afrikaners, moet verduur.

Sedert Mei 2017, het die Trustfonds 105 projekte op boereverenigingvlak gehelp finansier ter bevordering van die veiligheid van boere, plaaswerkers en hulle gesinne. Die afgelope paar jaar het die Trustfonds ʼn toename ervaar in die aansoeke vir die oprigting van kamerastelsels om gebiede te monitor. Die kameras word baie suksesvol gebruik om die polisie by te staan in die identifisering van verdagtes, wat weer lei tot inhegtenisnames. Die kameras dra ook by om veldbrande vroegtydig raak te sien, wat lei tot vinnige optrede om die verspreiding van die brande te bekamp. Met dié projekte is nagenoeg 6 000 boere en meer as 100 000 plaaswerkers en hulle gesinslede die afgelope vier jaar beveilig.

Die Trustfonds is in 1999 gevestig met voormalige president Mandela se ondersteuning. Dit is ʼn ideale vennoot en bied ʼn neutrale platform vir maatskappye om betrokke te raak in die stryd teen plaasmisdaad. Dit het ʼn bewese rekord dat die fondse wat ontvang word hoofsaaklik vir die beveiliging van die boerderygemeenskap gebruik word en om landelike boerderygebiede veiliger te maak.

 

For any further info on future events, contact Juanita da Matta on +27 (0)71 457 2696 or juanita@invictusinternational.co.za.